1. Dina, die dogter wat deur Lea vir Jakob in die wêreld gebring is, het op 'n keer gaan kuier by die dogters van die omgewing.
2. Toe Sigem seun van die Hewiet Gamor, 'n volksleier, haar sien, het hy haar gegryp en met haar gemeenskap gehad. Hy het haar verkrag.
3. Daarna het hy al hoe meer begin hou van Dina dogter van Jakob. Hy het die meisie lief gekry en haar hart probeer wen.
4. Hy het vir sy pa, vir Gamor gesê: “Kry vir my daardie meisie as vrou.”
5. Jakob het verneem dat sy dogter Dina deur Sigem onteer is, maar omdat Jakob se seuns met die vee in die veld was, het hy niks gedoen voor hulle terug was nie.
6. Toe Gamor, Sigem se pa, na Jakob toe gaan om met hom te praat oor Dina,
7. kom Jakob se seuns juis van die veld af by die huis aan en toe hulle hoor wat gebeur het, was die manne ontsteld. Hulle was baie kwaad, want Sigem het 'n gruwelike ding aangevang toe hy met die dogter van Jakob, 'n Israelitiese meisie, gemeenskap gehad het. So iets doen 'n mens nie.
8. Gamor het vir hulle gesê: “My seun Sigem hou baie van die dogter uit julle huis. Laat haar tog met hom trou.
9. Kom ons word familie van mekaar. Dan kan julle dogters met ons trou en ons dogters met julle.
10. Dan bly julle hier by ons. Ons land is tot julle beskikking. Bly net hier of trek rond en kry julle eie grond hier by ons.”
11. Toe sê Sigem vir Dina se pa en haar broers: “As julle instem, sal ek betaal wat julle ook al van my vra.
12. Julle kan maar die vergoeding wat ek moet gee, net so groot maak soos julle wil. Ek sal ook nog enige ander geskenk gee wat julle vra. Gee net asseblief die meisie vir my dat ek met haar kan trou.”
13. Jakob se seuns het egter nie vir Sigem en sy pa Gamor 'n reguit antwoord gegee nie, want die broers se suster Dina was onteer.
14. Hulle het toe gesê: “Ons kan nie ons suster sommer so laat trou met 'n man wat nie besny is nie. Dit is vir ons 'n ongehoorde ding.