Genesis 31:17-25 Afrikaans 1983 (AFR83)

17. Jakob het toe klaargemaak en sy vrouens en kinders op kamele laat klim,

18. en hy het al sy vee saamgevat en ook al sy besittings wat hy in Paddan-Aram bymekaargemaak het, en na sy pa, na Isak toe vertrek in Kanaän.

19. Laban was weg om sy skape te gaan skeer. Toe steel Ragel haar pa se afgodsbeeldjies.

20. Jakob het ook vir Laban die Arameër bedrieg deur hom nie te vertel van sy vlug nie.

21. Jakob het gevlug met alles by hom. Hy het deur die Eufraatrivier getrek en koers gekies Gileadberg toe.

22. Drie dae later is aan Laban vertel dat Jakob gevlug het.

23. Laban het die mans in sy familie saamgevat en vir Jakob agternagesit. Na sewe dae het Laban hom ingehaal by Gileadberg.

24. Dié nag het God in 'n droom na Laban die Arameër toe gekom en vir hom gesê: “Wees versigtig met wat jy vir Jakob sê!”

25. Toe Laban by Jakob kom, was sy kamp opgeslaan by Gileadberg, en Laban-hulle het ook daar kamp opgeslaan.

Genesis 31