9. Daarom het God Homook tot die hoogste eer verhefen Hom die Naam gegee wat bo elke naam is,
10. sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is,die knie sou buig,
11. en elke tong sou erken:“Jesus Christus is Here!”tot eer van God die Vader.
12. My geliefdes, julle was altyd gehoorsaam wanneer ek by julle was. Des te meer moet julle gehoorsaam wees nou dat ek nie daar is nie. Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe,
13. want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer.
14. Doen alles sonder kla of teëpraat.
15. Sorg dat julle bo alle verdenking staan en opreg bly, onberispelike kinders van God te midde van ontaarde en korrupte mense. Tree onder hulle op as ligdraers in die wêreld
16. deur die woord van die lewe uit te dra. Dan sal ek op die dag van Christus se koms rede hê om trots te wees, omdat dit sal blyk dat ek my nie verniet ingespan het nie en nie verniet geswoeg het nie.
17. Julle geloof is 'n offer in diens van God. Selfs al word my bloed daarby as drankoffer uitgegiet, is ek daaroor bly, ja, is ek saam met julle almal bly.
18. Om dieselfde rede moet julle ook bly wees, ja, saam met my bly wees.
19. Ek hoop om, as die Here Jesus wil, Timoteus gou na julle toe te stuur, sodat ek ook rus in my gemoed kan hê as ek gehoor het hoe dit met julle gaan.
20. Ek het trouens niemand met dieselfde gesindheid as hy en wat julle belange so opreg sal behartig nie.
21. Al die ander soek net hulle eie belange, nie dié van Jesus Christus nie.
22. Maar julle weet hoe betroubaar Timoteus is. Soos 'n kind saam met sy vader, het hy saam met my die saak van die evangelie gedien.
23. Ek hoop om hom dadelik te stuur, sodra ek gesien het hoe my sake verloop.
24. En ek vertrou dat, as die Here wil, ek self ook gou na julle toe sal kan kom.
25. Ek ag dit noodsaaklik om die broer Epafroditos, my medewerker en medestryder wat deur julle hierheen gestuur is om my in my omstandighede by te staan, na julle toe terug te stuur.
26. Hy verlang gedurig na julle almal en bly hom daaroor kwel dat julle van sy siekte gehoor het.