Ester 3:8-14 Afrikaans 1983 (AFR83)

8. Toe sê Haman vir koning Ahasveros: “Daar is 'n volk wat versprei is oor al die provinsies van u koninkryk en wat hulle self apart hou van die ander volke. Hulle gebruike verskil van al die ander nasies s'n en hulle gehoorsaam nie die wette van die koning nie. Dit is nie in die koning se belang om hulle te laat begaan nie.

9. As u dit goedvind, vaardig 'n proklamasie uit om hulle uit te roei. Ek sal dan drie honderd twee en veertig ton silwer lewer aan u ontvangers van inkomste om dit in die skatkis te plaas.”

10. Toe haal die koning sy seëlring van sy vinger af en gee dit vir die vyand van die Jode, vir Haman seun van Hammedata die Agagiet,

11. en sê vir hom: “Die silwer kan jy maar hou en met die volk kan jy maak wat jy wil.”

12. Op die dertiende van die eerste maand is die koning se skrywers ontbied en het hulle alles geskryf wat Haman die verteenwoordigers van die koning, die goewerneurs van elke provinsie en die leiers van elke volk beveel het: aan elke provinsie in sy eie skrif en aan elke volk in sy eie taal. Die proklamasie is geskryf in die naam van koning Ahasveros en verseël met sy ring.

13. Briewe is met boodskappers gestuur na al die provinsies van die koning met die opdrag dat al die Jode voor die voet uitgeroei moet word, klein en groot, kind en vrou. Dit moes plaasvind op één bepaalde dag, die dertiende van die twaalfde maand, die maand Adar. Verder moes daar op hulle besittings beslag gelê word.

14. Die proklamasie moes in elke provinsie as wet afgekondig word en moes aan alle mense bekend wees sodat hulle op dié bepaalde dag gereed kon wees.

Ester 3