Ester 3:10-15 Afrikaans 1983 (AFR83)

10. Toe haal die koning sy seëlring van sy vinger af en gee dit vir die vyand van die Jode, vir Haman seun van Hammedata die Agagiet,

11. en sê vir hom: “Die silwer kan jy maar hou en met die volk kan jy maak wat jy wil.”

12. Op die dertiende van die eerste maand is die koning se skrywers ontbied en het hulle alles geskryf wat Haman die verteenwoordigers van die koning, die goewerneurs van elke provinsie en die leiers van elke volk beveel het: aan elke provinsie in sy eie skrif en aan elke volk in sy eie taal. Die proklamasie is geskryf in die naam van koning Ahasveros en verseël met sy ring.

13. Briewe is met boodskappers gestuur na al die provinsies van die koning met die opdrag dat al die Jode voor die voet uitgeroei moet word, klein en groot, kind en vrou. Dit moes plaasvind op één bepaalde dag, die dertiende van die twaalfde maand, die maand Adar. Verder moes daar op hulle besittings beslag gelê word.

14. Die proklamasie moes in elke provinsie as wet afgekondig word en moes aan alle mense bekend wees sodat hulle op dié bepaalde dag gereed kon wees.

15. Die boodskappers het toe haastig vertrek ooreenkomstig die koninklike bevel. Die proklamasie is uitgevaardig in die vestingstad Susan. Die koning en Haman het toe gaan sit en drink, maar die stad self was in beroering.

Ester 3