1. 'n Tyd daarna het koning Ahasveros vir Haman seun van Hammedata die Agagiet vereer en hom bevorder. Hy het hom oor al sy ander amptenare aangestel.
2. Op bevel van die koning moes al die dienaars van die koning wat in die poort van sy paleis was, kniel en aan Haman eer bewys. Mordegai het egter nie gekniel en aan hom eer bewys nie.
3. Die dienaars van die koning wat in die poort van die paleis was, het vir Mordegai gevra: “Waarom oortree jy die bevel van die koning?”
4. Toe hulle dit dag vir dag vir hom vra, en hy hom nie aan hulle steur nie, het hulle dit vir Haman vertel, want hulle wou kyk of Mordegai sou volhard in sy houding. Hy het hulle naamlik laat verstaan dat hy 'n Jood is.
5. Toe Haman sien dat Mordegai nie kniel en aan hom eer bewys nie, was hy woedend.
6. Hy het ook gehoor wat Mordegai se volksverband is, en dit was vir hom nie genoeg om vir Mordegai alleen dood te maak nie: Haman het na 'n manier gesoek om al die Jode, die volk van Mordegai, in die hele koninkryk van Ahasveros uit te roei.
7. In die eerste maand, die maand Nisan, in die twaalfde regeringsjaar van koning Ahasveros, is met die Pur, dit is met die lot, in die teenwoordigheid van Haman beslis om 'n geskikte datum te kry om die Jode uit te roei. Die lot het geval op die twaalfde maand, die maand Adar.
8. Toe sê Haman vir koning Ahasveros: “Daar is 'n volk wat versprei is oor al die provinsies van u koninkryk en wat hulle self apart hou van die ander volke. Hulle gebruike verskil van al die ander nasies s'n en hulle gehoorsaam nie die wette van die koning nie. Dit is nie in die koning se belang om hulle te laat begaan nie.
9. As u dit goedvind, vaardig 'n proklamasie uit om hulle uit te roei. Ek sal dan drie honderd twee en veertig ton silwer lewer aan u ontvangers van inkomste om dit in die skatkis te plaas.”