7. Mordegai het as voog opgetree vir Hadassa, dit is Ester, die dogter van sy oom, want sy was 'n weeskind. Dié meisie was mooi, sy was baie mooi. Ná die dood van haar pa en ma het Mordegai haar as dogter aangeneem.
8. Toe die besluit en bevel van die koning bekend gemaak is, is 'n groot aantal meisies in die stad Susan bymekaargebring onder die sorg van Hegai. Ester is ook na die paleis van die koning toe geneem onder die sorg van Hegai wat oor die koning se vrouens toesig gehou het.
9. Die meisie was vir hom mooi en hy het van haar gehou. Hy het haar dadelik die nodige skoonheidsbehandeling gegee en haar die regte dieet laat volg. Ook het hy die sewe bestes van die paleis se kamerpersoneel tot haar beskikking gestel en haar en haar kamerpersoneel na die beste deel van die vrouekwartiere verskuif.
10. Ester het nie haar volksverband en afkoms bekend gemaak nie, want Mordegai het haar belet om dit te doen.
11. Mordegai het elke dag voor die voorhof van die vrouekwartiere heen en weer geloop om agter te kom hoe dit met Ester gaan en wat met haar gaan gebeur.
12. Die skoonheidsbehandeling waaraan die meisies hulle volgens die gebruik moes onderwerp, het twaalf maande lank geduur: behandeling met mirre-olie ses maande, en met lekkerruik-kruie en ander skoonheidsmiddels ses maande. Daarna het elke meisie 'n beurt gekry om na koning Ahasveros toe te gaan.
13. Wanneer sy uit die vrouekwartiere na die koning se paleis toe gaan, kon elke meisie alles saamvat wat sy wou.
14. Sy het in die aand in die paleis ingegaan en in die oggend is sy na die tweede stel vrouekwartiere toe onder die sorg van Saäsgas, die paleisbeampte wat oor die koning se byvrouens toesig gehou het. Sy kon nie weer na die koning toe gaan nie, behalwe as hy baie van haar gehou het en sy geroep word.
15. Ester was die dogter van Abigajil, 'n oom van Mordegai wat haar as sy dogter aangeneem het. Toe haar beurt kom om na die koning toe te gaan, het sy niks meer gevra as wat Hegai, die paleisbeampte wat oor die koning se vrouens toesig gehou het, vir haar aanbeveel het nie. Sy het 'n goeie indruk gemaak op almal wat haar gesien het.
16. Ester is na koning Ahasveros toe in die paleis geneem in die tiende maand, die maand Tebet, in die sewende regeringsjaar van die koning.