Ester 1:16-22 Afrikaans 1983 (AFR83)

16. Toe sê Memukan vir die koning en die hoë amptenare: “Koningin Vasti het nie net teen die koning verkeerd opgetree nie, maar ook teen al die hoë amptenare en al die mense in al die provinsies van die koning.

17. Haar optrede sal bekend word by al die vrouens en sal daartoe lei dat hulle geen ontsag meer vir hulle mans het nie. Hulle sal sê: ‘Koning Ahasveros het beveel dat koningin Vasti voor hom moet verskyn, maar sy het nie gekom nie.’

18. Die vooraanstaande vrouens van Persië en Medië wat van die koningin se optrede gehoor het, sal dit vandag nog aan hulle mans vertel en hulle met minagting behandel. Dit sal die mans woedend maak.

19. As u dit goedvind, vaardig 'n koninklike bevel uit en laat geskryf word in die wette van Persië en Medië, wat nie herroep kan word nie, dat Vasti nie meer voor koning Ahasveros mag verskyn nie en dat hy haar as koningin vervang met iemand wat haar beter sal gedra as sy.

20. As die bevel wat die koning uitvaardig, bekend word oor sy uitgestrekte koninkryk sal elke vrou haar man, belangrik of onbelangrik, met eerbied behandel.”

21. Die koning en sy hoë amptenare het hierdie voorstel goedgevind, en die koning het gedoen wat Memukan gesê het

22. en briewe gestuur na al die provinsies, na elke provinsie in sy eie skrif en na elke volk in sy eie taal. Hierin het gestaan dat elke man baas moet wees in sy eie huis en moet optree volgens die gebruik van sy volk.

Ester 1