Ester 1:11-20 Afrikaans 1983 (AFR83)

11. Hy het hulle beveel om koningin Vasti, met haar kroon op, na hom toe te laat kom sodat hy vir al die mense, al die hoë amptenare, kon wys hoe mooi sy is. Sy was 'n baie mooi vrou.

12. Koningin Vasti het egter geweier om te kom soos die koning haar deur sy paleisbeamptes beveel het. Toe het die koning baie kwaad geword. Hy was woedend

13. en het raad gevra by sy adviseurs wat geweet het hoe en wanneer om op te tree, want dit was gebruiklik dat die koning die kenners van wet en reg sou raadpleeg.

14. Karsena, Setar, Admata, Tarsis, Meres, Marsena en Memukan was by die koning. Hulle was die sewe hoofamptenare van Persië en Medië wat direkte toegang tot die koning gehad het en die hoogste poste in die koninkryk beklee het.

15. Hy vra hulle toe: “Wat moet volgens wet gedoen word met koningin Vasti wat nie gehoorsaam was aan die bevel van die koning deur sy paleisbeamptes nie?”

16. Toe sê Memukan vir die koning en die hoë amptenare: “Koningin Vasti het nie net teen die koning verkeerd opgetree nie, maar ook teen al die hoë amptenare en al die mense in al die provinsies van die koning.

17. Haar optrede sal bekend word by al die vrouens en sal daartoe lei dat hulle geen ontsag meer vir hulle mans het nie. Hulle sal sê: ‘Koning Ahasveros het beveel dat koningin Vasti voor hom moet verskyn, maar sy het nie gekom nie.’

18. Die vooraanstaande vrouens van Persië en Medië wat van die koningin se optrede gehoor het, sal dit vandag nog aan hulle mans vertel en hulle met minagting behandel. Dit sal die mans woedend maak.

19. As u dit goedvind, vaardig 'n koninklike bevel uit en laat geskryf word in die wette van Persië en Medië, wat nie herroep kan word nie, dat Vasti nie meer voor koning Ahasveros mag verskyn nie en dat hy haar as koningin vervang met iemand wat haar beter sal gedra as sy.

20. As die bevel wat die koning uitvaardig, bekend word oor sy uitgestrekte koninkryk sal elke vrou haar man, belangrik of onbelangrik, met eerbied behandel.”

Ester 1