21. “Ek, koning Artasasta, beveel al die beamptes in beheer van die skatkis in Wes-Eufraat: Alles wat die priester Esra, skrifgeleerde in die wet van die God van die hemel, van julle vra, moet julle dadelik lewer,
22. tot soveel as drie en 'n half ton silwer, sestien en 'n half ton koring, twee duisend twee honderd liter wyn, net soveel olie, en soveel sout as wat nodig is.
23. Wat die God van die hemel ook al vir sy tempel vereis, moet met toewyding gedoen word, sodat sy toorn nie oor die ryk van die koning en sy seuns kom nie.
24. Neem ook kennis dat julle nie gemagtig is om belasting, heffing of tol te eis van enige priester, Leviet, tempelsanger, poortwag, tempelslaaf of enigeen wat in die tempel van hierdie God werk nie.
25. “Jy, Esra, moet volgens die wysheid waaroor jy beskik soos dit jou deur jou God gegee word, regeerders en regters aanstel wat die regspraak kan behartig vir al die mense in Wes-Eufraat, vir almal wat die wet van jou God ken. Vir dié wat dit nie ken nie, moet julle dit leer.