Esegiël 30:7-15 Afrikaans 1983 (AFR83)

7. “Egipte sal 'n verlate land wees soos ander verlate lande, sy stede sal soos ander stede in puin lê.

8. Wanneer Ek vuur in Egipte in stuur en al sy helpers ondergaan, sal die Egiptenaars besef dat Ek die Here is.

9. Daardie dag sal daar van My af boodskappers in skepe gaan om Kus sy gevoel van veiligheid te laat wegskrik; hulle sal bewe die dag as Egipte ondergaan, en die dag kom beslis.”

10. So sê die Here my God: “Ek maak deur koning Nebukadnesar van Babel 'n einde aan die mag van Egipte.

11. Nebukadnesar en sy mense, 'n wrede nasie, word gebring om Egipte te verwoes. Hulle gaan die land aanval en hom vol dooies maak.

12. Ek laat die riviere opdroog en gee die land oor in die mag van slegte mense. Ek laat die land en alles in hom verwoes deur vreemdes. Ek, die Here, het gepraat.”

13. So sê die Here my God: “Ek roei die afgode uit, Ek maak 'n end aan die afgode in Memfis. Daar sal nie meer 'n regeerder in Egipte wees nie. Ek laat angs heers in Egipte.

14. Ek verwoes Patros, Ek laat Soan verbrand, Ek straf No.

15. Ek laat my toorn losbreek teen Sin, die vestingstad van Egipte, Ek roei die leërmag in No uit.

Esegiël 30