Eksodus 39:21-40 Afrikaans 1983 (AFR83)

21. Die ringe van die borssak is met 'n blou toutjie aan die ringe van die skouerkleed vasgemaak, net bokant die gordel van die skouerkleed, sodat die borssak nie van die skouerkleed af wegskuif nie. Dit alles is gedoen volgens die voorskrif van die Here aan Moses.

22. Die mantel wat saam met die skouerkleed gedra word, is as een stuk blou wolstof geweef.

23. In sy middel was daar 'n opening omgeboor, sterk soos 'n pantserhemp dat dit nie kan skeur nie.

24. Vir die some van die mantel het hulle granaatjies gemaak van goed geweefde blou, pers en bloedrooi wolstof.

25. Dan het hulle ook klokkies van suiwer goud gemaak en die klokkies tussen die granaatjies rondom die hele soom van die mantel vasgewerk,

26. een klokkie tussen elke twee granaatjies. Die mantel was vir diens bestem soos die Here dit vir Moses beveel het.

27. Hulle het ook priesterklere van linne geweef vir Aäron en sy seuns,

28. asook 'n tulband en mooi kopdoeke van linne, en linnebroeke van goed geweefde linne.

29. Hulle het ook 'n serp gemaak van goed geweefde linne, blou, pers en bloedrooi wolstof. Dit was weefwerk, soos die Here vir Moses beveel het.

30. Hulle het 'n blom van suiwer goud vir die gewyde tulband gemaak en daarop, soos op 'n seëlring, gegraveer: Aan Die Here Gewy.

31. Dit is met 'n blou toutjie aan die voorkant van die tulband vasgemaak, soos die Here vir Moses beveel het.

32. Uiteindelik was al die werk vir die tabernakel, die tent van ontmoeting, klaar. Die Israeliete het alles gemaak presies net soos die Here vir Moses beveel het.

33. Hulle het die tabernakel, die tent met al sy toebehore, na Moses toe gebring: die kramme, die rame, die dwarslatte, die style met hulle voetstukke;

34. die seil van rooigekleurde ramsvel, die seil van gebreide vel, die voorhangsel,

35. die ark met die getuienis, die draaghoute, die deksel,

36. die tafel met sy draaghoute en al sy toebehore, die offerbrood;

37. die gewyde kandelaar met sy ry lampe en toebehore en olie vir die lampe,

38. die goue altaar, die salfolie, die geurige wierook en die afskorting vir die tentdeur;

39. die bronsaltaar met al sy toebehore, die bronstraliewerk waaraan die draaghoute vas was, die waskom met sy voetstuk,

40. die gordyne van die voorhof, hulle style met hulle voetstukke, die afskorting vir die deur van die voorhof met sy toue en penne, en al die ander toebehore vir die diens in die tabernakel, die tent van ontmoeting;

Eksodus 39