1. Toe het die Here vir Moses gesê: “Trek nou hiervandaan af weg, jy en die volk wat jy uit Egipte laat wegtrek het. Trek na die land toe wat Ek met 'n eed beloof het aan Abraham, Isak en Jakob toe Ek gesê het: ‘Ek sal dit aan julle nageslag gee.’
2. Ek sal my engel voor jou uit stuur en Ek sal die Kanaäniete, Amoriete, Hetiete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete verdryf.
3. Julle is so 'n moedswillige volk dat Ek nie sal saamtrek na hierdie land wat oorloop van melk en heuning nie, want dan verdelg Ek julle op pad daarheen.”
4. Toe die volk van hierdie harde uitspraak verneem, het hulle getreur en geen juwele gedra nie.
5. Daarop het die Here vir Moses gesê: “Sê vir die Israeliete: Julle is 'n moedswillige volk. As Ek net 'n oomblikkie saam met julle trek, sal Ek julle verdelg. Sit al julle juwele weg. Ek sal later besluit wat Ek met julle gaan doen.”
6. Vandat hulle van Horebberg af verder getrek het, het die Israeliete nie meer juwele gedra nie.
7. Moses het 'n tent gevat en dit ver buite die kamp gaan opslaan. Hy het dit die tent van ontmoeting genoem. Elkeen wat na die wil van die Here wou vra, het na die tent van ontmoeting buite die kamp gegaan.
8. Elke keer wanneer Moses na die tent toe uitgegaan het, het die hele volk opgestaan. Elkeen het by die ingang van sy tent bly staan en Moses agterna gekyk tot hy in die tent ingaan.