3. en wel die volgende: goud, silwer en brons;
4. verder ook nog blou, pers en bloedrooi wolstof, linne, bokhaar,
5. rooigekleurde ramsvelle, gebreide velle en doringhout;
6. olie vir die lampe, balsem vir salfolie en vir geurige wierookoffers;
7. oniks en ander halfedelstene waarmee die skouerkleed en borssak van die hoëpriester versier kan word.
8. “Hulle moet vir My 'n heiligdom oprig dat Ek tussen hulle kan woon.
9. Die tabernakel en al sy toebehore moet gemaak word presies volgens die plan wat Ek jou gewys het.”
10. “Julle moet 'n ark van doringhout maak: een en 'n kwart meter lank, 'n driekwart meter breed en net so hoog.
11. Jy moet dit binne en buite met suiwer goud oortrek en 'n goue lys rondom vassit.
12. Verder moet jy vier goue ringe giet wat aan die onderste vier hoeke vasgesit moet word, sodat daar twee ringe aan elke kant is.
13. Jy moet draaghoute van doringhout maak en dit met goud oortrek.
14. Dan moet jy die draaghoute deur die ringe aan weerskante van die ark steek om die ark daarmee te dra.
15. Die draaghoute moet in die ringe van die ark bly en mag nooit uitgehaal word nie.
16. In die ark moet jy die getuienis van die verbond sit wat Ek jou sal gee.
17. “Dan moet jy 'n deksel van suiwer goud maak, een en 'n kwart meter lank en 'n driekwart meter breed.
18. Maak twee gerubs van geslae goud op die kante van die deksel, een links en een regs.