Efesiërs 6:13-20 Afrikaans 1983 (AFR83)

13. Trek daarom die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle die stryd tot die einde toe gevoer het, nog op julle pos kan bly staan.

14. Bly dan op julle pos, toegerus met die waarheid as gordel om julle heupe, die vryspraak deur God as borsharnas,

15. en die bereidheid om die evangelie van vrede te verkondig as skoene aan die voete.

16. Daarby moet julle altyd geloof as skild in die hand hê, want daarmee sal julle al die brandpyle van die Bose kan afweer.

17. Sit verlossing as helm op en vat die swaard van die Gees, dit is die woord van God.

18. Doen dit alles biddend en smeek God by elke geleentheid deur die Gees. Wees waaksaam en bid gedurig vir al die gelowiges.

19. Bid ook vir my dat wanneer ek preek, God my die woorde gee dat ek die geheimenis van die evangelie met vrymoedigheid kan bekend maak.

20. Ter wille van hierdie evangelie is ek 'n gesant in boeie. Bid dat ek dit met vrymoedigheid kan verkondig soos dit my opgelê is.

Efesiërs 6