1. Toe het een van die sewe engele wat die sewe bakke het, gekom en met my gepraat. “Kom,” het hy gesê, “ek sal jou wys hoe die oordeel voltrek word oor die berugte sedelose vrou wat by baie waters bly
2. en met wie die konings van die aarde onsedelik verkeer het. Die bewoners van die aarde het dronk geword van die wyn van haar onsedelikheid.”
3. Ek is toe deur die Gees meegevoer en die engel het my na die woestyn toe geneem. Daar het ek 'n vrou gesien wat op 'n helderrooi dier sit. Die dier was oortrek met godslasterlike name en het sewe koppe en tien horings gehad.
4. Die vrou was uitgedos in pers en helderrooi klere en opgetooi met goud, edelstene en pêrels. In haar hand het sy 'n goue beker vol losbandigheid gehad, die onreinheid van haar onsedelikheid.
5. Op haar voorkop was haar naam geskrywe en dit het 'n verborge betekenis. Die naam was: “Groot Babilon, die moeder van die sedeloses en van die losbandigheid op die aarde.”
6. En ek het gesien dat die vrou dronk is van die bloed van die gelowiges, van die bloed van die mense wat vir Jesus getuig het.Toe ek haar sien, het ek my baie verwonder.
7. Die engel sê toe vir my: “Waarom verwonder jy jou? Ek sal jou vertel wat die verborge betekenis is van die vrou en van die dier wat haar dra, wat die sewe koppe en die tien horings het.
8. “Die dier wat jy gesien het, was eers en is nie nou nie. Hy gaan uit die onderaardse diepte uit kom en gaan na die verderf toe. Die bewoners van die aarde wie se name nie van die skepping van die wêreld af in die boek van die lewe geskrywe staan nie, sal verwonderd wees as hulle die dier sien, want eers was hy en nou is hy nie en tog sal hy wees.
9. “Hier is verstand en wysheid nodig. Die sewe koppe is sewe berge. Daar by hulle het die vrou haar setel. Verder is hulle ook sewe konings.