1. Toe is daar vir my 'n meetstok gegee wat soos 'n septer lyk, en daar is vir my gesê: “Staan op en meet die tempel van God en die altaar en die mense wat God daar aanbid.
2. Maar die voorhof, wat buitekant die tempel is, moet jy heeltemal uitlaat en dit nie meet nie, omdat dit aan die heidene oorgegee is, en hulle sal die heilige stad twee en veertig maande lank vertrap.
3. “Ek sal aan my twee getuies opdrag gee, en hulle sal, met rouklere aan, my boodskap twaalf honderd en sestig dae lank verkondig.”
4. Hulle is die twee olyfbome en ook die twee lampe wat voor die Here van die aarde staan.
5. As iemand hulle kwaad wil aandoen, kom daar vuur uit hulle monde uit en verteer hulle vyande. Só moet elkeen doodgemaak word wat hulle kwaad sal wil aandoen.
6. Hulle het die mag om die hemel toe te sluit, sodat daar gedurende die hele tyd wanneer hulle God se boodskap verkondig, geen reën sal val nie. Hulle het ook die mag om al die water in bloed te verander en om die aarde met allerhande plae te tref so dikwels as hulle dit nodig vind.
7. Wanneer hulle egter hulle getuienis klaar gelewer het, sal die dier wat uit die onderaardse diepte uit kom, teen hulle oorlog maak, hulle oorwin en hulle doodmaak.
8. Hulle lyke sal in die hoofstraat van die groot stad lê waar hulle Here ook gekruisig is. Die stad word sinnebeeldig Sodom en Egipte genoem.
9. Mense van al die volke, stamme, tale en nasies sal hulle lyke drie en 'n half dae lank daar sien lê en nie toelaat dat hulle begrawe word nie.