1. “Luister, Israel, jy gaan nou deur die Jordaanrivier trek om nasies te gaan verdryf wat groter en sterker is as jy en om groot stede wat met hoë mure versterk is, te gaan verower.
2. Jy weet hoe 'n groot en sterk volk die Enakiete is. Jy het gehoor daar word gevra: ‘Wie kan die Enakiete teëstaan?’
3. Maar onthou: die Here jou God gaan voor jou uit deur die Jordaan. Hy is 'n verterende vuur. Hy sal die Enakiete oorweldig en aan jou onderwerp. Dan sal jy hulle kan verslaan en hulle gou uitwis soos die Here jou beloof het.
4. “Wanneer die Here jou God hulle verdryf het, moet jy nie sê: ‘Die Here het my hierdie land in besit laat neem omdat ek volmaak is’ nie, want die Here het hierdie nasies verdryf omdat hulle so goddeloos is.
5. Dit is nie omdat jy volmaak en opreg is dat jy sal ingaan om hulle land in besit te neem nie. Omdat hierdie nasies so goddeloos is, sal die Here jou God hulle verdryf, en so sal Hy die belofte vervul wat Hy met 'n eed aan jou voorvaders Abraham, Isak en Jakob gemaak het.
6. Jy moet goed onthou dat die Here jou God nie hierdie goeie land vir jou gee om in besit te neem omdat jy volmaak is nie. Jy is 'n hardkoppige volk.”
7. “Moenie vergeet hoe julle die Here julle God kwaad gemaak het in die woestyn nie. Vandat julle uit Egipte weggetrek het totdat julle hier op hierdie plek aangekom het, was julle die hele tyd in opstand teen die Here.
8. By Horeb het julle gemaak dat die toorn van die Here ontvlam, en Hy het so kwaad geword vir julle dat Hy julle wou uitroei.
9. Ek het teen die berg uitgeklim om die plat klippe te gaan ontvang, die plat klippe waarop die Here die bepalings van sy verbond met julle geskryf het. Ek het veertig dae en veertig nagte lank daar gebly en niks geëet of gedrink nie.