Deuteronomium 7:14-25 Afrikaans 1983 (AFR83)

14. Dit sal met jou beter gaan as met al die volke. Nie een van jou mense of jou vee sal onvrugbaar wees nie.

15. Die Here sal elke soort siekte van jou af weghou. Nie een van Egipte se dodelike siektes wat jy maar alte goed ken, sal Hy jou laat tref nie. Hy sal dit jou vyande laat tref.

16. Jy moet al die volke wat deur die Here jou God in jou mag oorgegee word, uitroei. Moenie een van hulle spaar nie en moenie hulle gode dien nie: hulle is valstrikke vir jou.

17. “Jy kan dalk dink: hierdie nasies is sterker as ek. Hoe sal ek hulle kan verdryf?

18. “Moenie vir hulle bang wees nie. Dink net wat die Here jou God met die farao en die hele Egipte gedoen het.

19. Jy het met jou eie oë gesien met watter groot plae en tekens en wonders, met watter magtige dade en wonderdade die Here jou God jou bevry het. Hy sal met al die volke vir wie jy bang is, maak soos met Egipte.

20. Die Here jou God sal die nasies die skrik op die lyf jaag totdat ook dié wat oorgebly het en vir jou weggekruip het, uitgewis is.

21. Moenie vir hulle bang wees nie, want die Here jou God is by jou en Hy is 'n groot en magtige God.

22. Hy sal daardie nasies die een na die ander verdryf. Jy sal hulle nie almal sommer dadelik kan uitwis nie, want dan sal die wilde diere vir jou te veel word.

23. Die Here jou God sal die nasies in jou mag oorgee. Hy sal hulle in groot verwarring bring totdat hulle uiteindelik vernietig is.

24. Hy sal hulle konings in jou mag gee, en jy sal hulle heeltemal van die aarde af wegvee. Niemand sal jou kan teenstaan nie, jy sal hulle uitdelg.

25. Jy moet hulle afgodsbeelde verbrand. Moenie die silwer en goud wat aan die beelde is, begeer en vir jou vat nie. Jy kan daardeur in 'n valstrik trap: die afgodsbeelde is afskuwelike goed in die oë van die Here jou God.

Deuteronomium 7