2. “So sal jy die Here jou God jou lewe lank kan dien en gehoorsaam wees aan sy voorskrifte en gebooie wat ek jou gegee het, jy en jou hele nageslag, en dan sal jy 'n lang lewe hê.
3. As jy luister, Israel, en as jy gehoorsaam is en lewe volgens my gebooie, sal jy voorspoedig wees en uitermate baie word in die land wat oorloop van melk en heuning. Dit is wat die Here die God van jou voorvaders jou beloof het.
4. “Luister, Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here.
5. Daarom moet jy die Here jou God liefhê met hart en siel, met al jou krag.
6. “Hierdie gebooie wat ek jou vandag gegee het, moet in jou gedagtes bly.
7. Jy moet dit inskerp by jou kinders en met hulle daaroor praat as jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan.
8. Jy moet dit as herinneringsteken vasbind aan jou hande, en dit moet 'n merk op jou voorkop wees.
9. Skryf dit op jou deurkosyne en op jou stadspoorte.
10. “Die Here jou God sal jou bring in die land waarvan Hy met 'n eed aan jou voorvaders Abraham, Isak en Jakob beloof het om vir jou groot en mooi stede te gee wat jy nie gebou het nie,
11. huise vol voorrade waarvoor jy nie gewerk het nie, putte wat jy nie uitgekap het nie, wingerde en olyfboorde wat jy nie geplant het nie, en jy sal kos in oorvloed hê.
12. Maar sorg dat jy nie dan die Here vergeet wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het nie.
13. Jy moet die Here jou God eer en dien en net in sy Naam 'n eed aflê.