6. “Wanneer jy afkom op 'n voëlnes in 'n boom of op die grond, en daar is kleintjies of eiers in die nes en die wyfie sit daarop, mag jy nie die wyfie saam met die kleintjies vir jou vat nie.
7. Jy mag die kleintjies vir jou vat, maar jy moet die wyfie laat wegvlieg. Dan sal dit goed gaan met jou, en sal jy 'n lang lewe hê.
8. “Wanneer jy 'n nuwe huis bou, moet jy 'n reling rondom die dak aanbring sodat jy nie met jou huis iemand se dood veroorsaak as hy van die dak af val nie.
9. “Jy mag nie 'n ander gewas in jou wingerd plant nie. As jy dit doen, sal die opbrengs van die gewas, sowel as die druiweoes die tempel toekom.
10. “Jy mag nie 'n bees en 'n donkie saam voor 'n ploeg inspan nie.
11. “Jy mag nie 'n kledingstuk dra wat van twee soorte materiaal, wol en linne, gemaak is nie.
12. “Jy moet klossies vaswerk aan al die some van jou klere.
13. “Wanneer 'n man 'n vrou trou, kan dit gebeur dat hy 'n afkeer kry van haar nadat hy met haar gemeenskap gehad het
14. en haar van slegte gedrag beskuldig en haar 'n slegte naam laat kry deurdat hy sê: ‘Ek het hierdie vrou getrou en met haar gemeenskap gehad, maar ek het nie enige tekens dat sy 'n maagd was, by haar gevind nie.’
15. Dan moet haar pa en haar ma die tekens dat sy 'n maagd was, na die leiers van die stad toe bring in die stadspoort
16. en dan moet haar pa vir hulle sê: ‘Ek het my dogter met hierdie man laat trou en nou haat hy haar.
17. Hy beskuldig haar van slegte gedrag deurdat hy sê hy het nie enige tekens dat sy 'n maagd was, by haar gevind nie. Maar hier is die tekens dat my dogter 'n maagd was.’ Dan moet haar pa haar nagklere vir die leiers van die stad wys.
18. Hulle moet die man dan met 'n sweep slaan
19. en hom met elf honderd en veertig gram silwer beboet. Hulle moet die geld vir haar pa gee omdat die man haar, 'n maagd van Israel, 'n slegte naam laat kry het. Sy sal ook die man se vrou bly. Hy mag nooit van haar skei nie.
20. Maar as die man die waarheid gepraat het, en daar nie enige tekens dat sy 'n maagd was by haar gevind is nie,
21. moet hulle haar by die deur van haar pa se huis laat uitkom en die mans van die stad moet haar daar met klippe doodgooi. Sy moet sterf omdat sy 'n ongehoorde ding in Israel gedoen het deurdat sy met 'n man geslagsgemeenskap gehad het terwyl sy nog ongetroud was. So moet jy hierdie soort kwaad tussen julle uitroei.