Deuteronomium 22:6-16 Afrikaans 1983 (AFR83)

6. “Wanneer jy afkom op 'n voëlnes in 'n boom of op die grond, en daar is kleintjies of eiers in die nes en die wyfie sit daarop, mag jy nie die wyfie saam met die kleintjies vir jou vat nie.

7. Jy mag die kleintjies vir jou vat, maar jy moet die wyfie laat wegvlieg. Dan sal dit goed gaan met jou, en sal jy 'n lang lewe hê.

8. “Wanneer jy 'n nuwe huis bou, moet jy 'n reling rondom die dak aanbring sodat jy nie met jou huis iemand se dood veroorsaak as hy van die dak af val nie.

9. “Jy mag nie 'n ander gewas in jou wingerd plant nie. As jy dit doen, sal die opbrengs van die gewas, sowel as die druiweoes die tempel toekom.

10. “Jy mag nie 'n bees en 'n donkie saam voor 'n ploeg inspan nie.

11. “Jy mag nie 'n kledingstuk dra wat van twee soorte materiaal, wol en linne, gemaak is nie.

12. “Jy moet klossies vaswerk aan al die some van jou klere.

13. “Wanneer 'n man 'n vrou trou, kan dit gebeur dat hy 'n afkeer kry van haar nadat hy met haar gemeenskap gehad het

14. en haar van slegte gedrag beskuldig en haar 'n slegte naam laat kry deurdat hy sê: ‘Ek het hierdie vrou getrou en met haar gemeenskap gehad, maar ek het nie enige tekens dat sy 'n maagd was, by haar gevind nie.’

15. Dan moet haar pa en haar ma die tekens dat sy 'n maagd was, na die leiers van die stad toe bring in die stadspoort

16. en dan moet haar pa vir hulle sê: ‘Ek het my dogter met hierdie man laat trou en nou haat hy haar.

Deuteronomium 22