35. ‘Nie een van hierdie slegte geslag sal die goeie land sien wat Ek, die Here, hulle voorvaders met 'n eed beloof het om aan hulle te gee nie.
36. Net Kaleb seun van Jefunne sal die land sien, en aan hom en sy nageslag sal Ek die grond gee waarop hy geloop het, want hy het die Here getrou gevolg.’
37. “Dit was oor julle dat die Here vir my kwaad geword het en gesê het: ‘Ook jý sal nie die land ingaan nie.
38. Jou assistent, Josua seun van Nun, hý sal daar ingaan. Moedig hom aan, want dit is hý wat Israel die land in besit sal laat neem.
39. Julle babatjies van wie julle gesê het hulle sal buitgemaak word, en julle kleuters wat nou nog niks weet nie, hulle sal die land ingaan. Ek gee dit vir hulle en hulle sal dit in besit neem.
40. Julle moet nou omdraai en die woestyn in trek, al met die pad na die Rietsee toe.’
41. “Toe het julle uitgeroep: ‘Ons het teen die Here gesondig! Ons wil optrek en gaan veg soos die Here ons God ons beveel het.’ Julle het julle wapens gegryp en gedink dis kinderspeletjies om die Bergwêreld te gaan verower.
42. “Maar die Here het vir my gesê: ‘Sê vir hulle hulle moenie optrek om te gaan oorlog maak nie, want Ek is nie by hulle nie. Hulle sal nie hulle vyande verslaan nie.’
43. Ek het dit vir julle gesê, maar julle het nie geluister nie en in opstand gekom teen die opdrag van die Here. Julle was moedswillig en het na die Bergwêreld toe getrek,
44. maar die Amoriete wat in daardie gebied woon, het teen julle opgeruk en julle verjaag soos 'n swerm bye dit sou doen en julle van Seïr af tot by Gorma uitmekaar gejaag.
45. Toe het dit julle berou dat julle dit gedoen het en julle het julle nood by die Here kom kla, maar Hy het nie na julle geluister nie en Hom nie aan julle gesteur nie.
46. So het dit gekom dat julle so lank by Kades gebly het.”