Deuteronomium 1:3-17 Afrikaans 1983 (AFR83)

3. Op die eerste van die elfde maand van die veertigste jaar na die uittog uit Egipte het Moses vir die Israeliete alles gesê wat die Here hom oor hulle beveel het.

4. Dit was nadat Moses vir Sihon en Og verslaan het. Koning Sihon van die Amoriete het in Gesbon gewoon, en koning Og van Basan in Astarot by Edreï.

5. Dit was oos van die Jordaan, in Moab, dat Moses die wet begin verduidelik het.Hy het gesê:

6. “Die Here ons God het by Horeb vir ons gesê: ‘Julle het nou lank genoeg by hierdie berg gebly.

7. Breek nou kamp af en trek die Bergwêreld van die Amoriete in en ook die gebied van die mense wat saam met die Amoriete in die land woon: die Jordaanvallei, die Bergwêreld, die Laeveld, die Suidland en die Kusvlakte. Dit is die hele Kanaän en die Libanon tot by die groot rivier, die Eufraat.

8. Ek stel hierdie land tot julle beskikking. Trek in en neem dit in besit. Ek, die Here, het met 'n eed beloof om dit aan julle voorvaders Abraham, Isak en Jakob te gee en aan hulle nageslag.’

9. “Toe julle van Horeb af weg is, het ek vir julle gesê: ‘Ek kan nie alleen al die verantwoordelikheid vir julle dra nie.

10. Die Here julle God het julle baie laat word, en nou is julle net so baie soos die sterre aan die hemel.

11. Mag die Here die God van julle voorvaders julle nog duisend maal meer maak en vir julle 'n groot nageslag gee soos Hy julle beloof het.

12. Hoe kan ek alleen julle probleme oplos, die verantwoordelikheid vir julle dra en julle hofsake verhoor?

13. Bring uit julle stamme verstandige manne, manne met insig, manne van aansien, sodat ek hulle as hoofde oor julle kan aanstel.’

14. Toe het julle vir my gesê: ‘Wat u wil doen, is reg,’

15. en ek het die leiers uit julle stamme aanvaar, verstandige manne, manne van aansien, en hulle aangestel as hoofde oor julle, leiers van duisend, van honderd, van vyftig en van tien: amptenare vir julle stamme.

16. In dieselfde tyd het ek ook julle regters beveel: ‘Verhoor die sake wat daar tussen julle volksgenote kom en lewer regverdige uitsprake, of dit nou is tussen volksgenoot en volksgenoot of tussen volksgenoot en vreemdeling.

17. Moenie partydig wees as julle 'n saak verhoor nie, luister na klein en groot. Moenie vir mense bang wees nie. Wie regspreek, is in diens van God. Sake wat vir julle te moeilik is, moet julle na my toe bring en ek sal hulle verhoor.’

Deuteronomium 1