2 Samuel 16:10-20 Afrikaans 1983 (AFR83)

10. “Seun van Seruja, dit het niks met my of met jou te doen nie,” was die koning se antwoord. “Hy vloek so omdat die Here hom beveel het om vir Dawid te vloek! Niemand moet nou vra waarom hy dit doen nie.”

11. Verder het die koning vir al sy amptenare en vir Abisai gesê: “My eie bloedkind soek my lewe. Daarom moet julle hierdie Benjaminiet met rus laat dat hy maar vloek, want die Here het hom die opdrag gegee.

12. Miskien let die Here op my ellende en beloon Hy my met iets goeds vir vandag se vervloeking.”

13. Dawid en sy mense het toe pad langs verder getrek. Simeï het ál teen die berghang langs geloop en vloek en klippe gooi en stof opskop.

14. Moeg het die koning en sy geselskap by die Jordaan aangekom en daar 'n bietjie gerus.

15. Maar Absalom en die hele Israel het in Jerusalem aangekom. Agitofel was ook by.

16. Toe Dawid se vriend Gusai die Erekiet by Absalom kom, sê Gusai vir hom: “Lank lewe die koning! Lank lewe die koning!”

17. Toe vra Absalom vir hom: “Is dit hoe jy jou lojaliteit teenoor jou vriend wys? Waarom het jy nie saam met hom gegaan nie?”

18. Gusai het geantwoord: “O nee! Ek skaar my by dié een vir wie die Here en hierdie manskappe en elke Israeliet gekies het. By hom staan ek.

19. Per slot van rekening: wie sal ek dien? Is dit nie sy seun nie? Net soos ek u vader gedien het, sal ek u dien.”

20. Daarna sê Absalom vir Agitofel: “Kom, julle moet altwee raad gee oor wat ons nou te doen staan.”

2 Samuel 16