9. Die koning het geantwoord: “Gaan gerus maar.”Hy het toe klaargemaak en na Hebron toe gegaan.
10. Absalom het ook boodskappers na al die Israelitiese stamme toe gestuur om te sê: “As julle die ramshoring hoor, moet julle sê: Absalom het koning geword in Hebron.”
11. Saam met Absalom was daar twee honderd genooides wat te goeder trou uit Jerusalem saamgegaan het. Van die hele sameswering het hulle niks geweet nie.
12. Absalom het ook Dawid se adviseur Agitofel die Giloniet laat kom uit die stad Gilo waar hy besig was om offers te bring. So het die sameswering ernstige afmetings aangeneem, en die volk het al hoe meer na Absalom toe oorgeloop.
13. Toe kom daar iemand by Dawid met die berig: “Die hele Israel is aan Absalom se kant.”
14. Dawid het toe sy hele hofhouding wat by hom in Jerusalem was, beveel: “Maak klaar. Laat ons vlug, want Absalom sal geen genade vir ons hê nie. Maak gou voordat hy ons dalk inhaal en 'n groot ramp ons tref deurdat hy 'n bloedbad in die stad aanrig.”
15. Hulle het die koning geantwoord: “Net soos die koning verkies. Ons is gereed.”