5. As so iemand nader kom om voor hom te buig, slaan Absalom sy arms om hom en soen hom.
6. So het hy gemaak met al die Israeliete wat vir regspraak na die koning toe gekom het, en op hierdie manier het hy die burgers se harte gesteel.
7. Na vier jaar het Absalom vir die koning gesê: “Ek wil graag my gelofte wat ek teenoor die Here afgelê het, in Hebron gaan betaal,
8. want terwyl ek op Gesur in Aram gebly het, het ek beloof: As die Here my veilig na Jerusalem toe laat terugkom, sal ek Hom met 'n offer vereer.”
9. Die koning het geantwoord: “Gaan gerus maar.”Hy het toe klaargemaak en na Hebron toe gegaan.
10. Absalom het ook boodskappers na al die Israelitiese stamme toe gestuur om te sê: “As julle die ramshoring hoor, moet julle sê: Absalom het koning geword in Hebron.”
11. Saam met Absalom was daar twee honderd genooides wat te goeder trou uit Jerusalem saamgegaan het. Van die hele sameswering het hulle niks geweet nie.
12. Absalom het ook Dawid se adviseur Agitofel die Giloniet laat kom uit die stad Gilo waar hy besig was om offers te bring. So het die sameswering ernstige afmetings aangeneem, en die volk het al hoe meer na Absalom toe oorgeloop.
13. Toe kom daar iemand by Dawid met die berig: “Die hele Israel is aan Absalom se kant.”
14. Dawid het toe sy hele hofhouding wat by hom in Jerusalem was, beveel: “Maak klaar. Laat ons vlug, want Absalom sal geen genade vir ons hê nie. Maak gou voordat hy ons dalk inhaal en 'n groot ramp ons tref deurdat hy 'n bloedbad in die stad aanrig.”
15. Hulle het die koning geantwoord: “Net soos die koning verkies. Ons is gereed.”
16. Nadat hy tien byvrouens agtergelaat het om die paleis op te pas, het die koning en sy hele hofhouding te voet gevlug.