5. En juis om hierdie rede moet julle alles in die stryd werp om julle geloof te verryk met deugsaamheid, die deugsaamheid met kennis,
6. die kennis met selfbeheersing, die selfbeheersing met volharding, die volharding met godsvrug,
7. die godsvrug met liefde onder mekaar en die liefde onder mekaar met liefde vir alle mense.
8. As julle dit alles besit en dit neem steeds toe, sal julle met ywer en met vrug ons Here Jesus Christus beter leer ken.
9. Iemand wat hierdie dinge nie sy eie gemaak het nie, is kortsigtig; nog erger, hy is blind en het vergeet dat hy van sy vroeëre sondes gereinig is.
10. Daarom, broers, moet julle julle des te meer daarvoor beywer om deur julle lewe te bewys dat God julle geroep en verkies het. As julle hierdie dinge doen, sal julle nooit struikel nie.
11. En dan sal daar vir julle vrye en feestelike toegang wees tot die ewige koninkryk van ons Here en Verlosser, Jesus Christus.
12. Om hierdie rede sal ek julle altyd aan hierdie dinge herinner, al weet julle dit en al staan julle reeds vas in die waarheid wat aan julle bekend gemaak is.
13. Ek ag dit immers my plig om julle aan te spoor deur julle hieraan te herinner so lank as ek nog lewe.
14. Ek weet dat my dood nie meer ver is nie. Ons Here Jesus Christus het dit trouens duidelik aan my bekend gemaak.