2 Kronieke 18:18-27 Afrikaans 1983 (AFR83)

18. En Miga praat verder: “Hoor die woord van die Here! Ek het die Here op sy troon sien sit met die hele hemelse leërmag wat weerskante van Hom staan.

19. En die Here het gesê: ‘Wie sal vir Agab koning van Israel so ver kry dat hy na Ramot in Gilead gaan en daar sneuwel?’ Die een het toe dit gesê en die ander dat,

20. totdat die gees vorentoe gekom en voor die Here gaan staan en gesê het: ‘Ek sal hom so ver kry.’ En toe die Here vir hom vra: ‘Hoe?’

21. sê die gees: ‘Ek sal uitgaan en 'n leuengees word in die mond van al sy profete.’ Toe sê die Here: ‘Jy sal hom so ver kry. Gaan doen dit, jy sal dit regkry.’

22. So het die Here 'n leuengees in die mond van hierdie profete van u laat kom, maar Hy het in werklikheid vir u 'n ramp aangekondig.”

23. Toe kom Sedekia seun van Kenaäna nader en hy slaan vir Miga op die kakebeen en sê: “Met watter pad is die Gees van die Here van my af weg om met jou te praat?”

24. En Miga antwoord: “Dit sal jy sien die dag as jy in een donker kamer na die ander probeer wegkruip.”

25. Die koning van Israel het toe beveel: “Vat vir Miga en bring hom na Amon, die stadsbevelvoerder, en na prins Joas toe.

26. Sê vir hulle die koning sê hulle moet hierdie man in die tronk sit en hom 'n skraal rantsoen kos en water gee tot ek behoue terugkom.”

27. Maar Miga het gesê: “As u behoue terugkom, het die Here nie deur my gepraat nie.” Verder het hy gesê: “Hoor dit, alle manskappe!”

2 Kronieke 18