2 Kronieke 15:9-15 Afrikaans 1983 (AFR83)

9. Deur hierdie optrede het hy die hele Juda en Benjamin om hom saamgetrek, en ook talle immigrante uit Efraim en Manasse en uit Simeon, wat uit Israel na hom toe oorgeloop het toe hulle sien die Here sy God is by hom.

10. In die derde maand van die vyftiende regeringsjaar van Asa het hulle almal in Jerusalem bymekaargekom

11. en op dié bepaalde dag vir die Here offerandes gebring uit die buit wat hulle saamgebring het: sewe honderd beeste en sewe duisend stuks kleinvee.

12. Hulle het ook 'n verbond gesluit om aan die Here die God van hulle voorvaders gehoorsaam te wees met hulle hele hart en siel.

13. Elkeen wat ongehoorsaam was aan die Here die God van Israel, moes doodgemaak word, klein en groot, man en vrou.

14. Hulle het die eed aan die Here hardop afgelê onder begeleiding van jubelroepe, trompetgeskal en die klank van die ramshoring.

15. Die hele Juda het hulle verheug oor die eed, want hulle het dit met hulle hele hart afgelê. Dit was vir hulle 'n vreugde om na die Here te vra, en Hy het Hom deur hulle laat vind en hulle rus gegee na alle kante toe.

2 Kronieke 15