2 Kronieke 13:1-7 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. In die agtiende regeringsjaar van koning Jerobeam het Abia koning oor Juda geword,

2. en hy het drie jaar in Jerusalem geregeer. Sy ma was Miga 'n dogter van Uriël, uit Gibea.Daar het oorlog tussen Abia en Jerobeam uitgebreek.

3. Abia het die oorlog begin met 'n mag van vier honderd duisend uitgesoekte soldate, en Jerobeam het hom teengestaan met ag honderd duisend man, ook uitgesoekte soldate.

4. Abia was op Semarajimberg in die Efraimsberge en hy het daarvandaan geroep: “Luister, Jerobeam en al julle Israeliete!

5. Julle weet tog dat die Here die God van Israel die koningskap oor Israel vir altyd aan Dawid en sy nageslag gegee het. Dit is 'n onverbreekbare verbond.

6. Jerobeam seun van Nebat en amptenaar van Salomo seun van Dawid het teen sy koning in opstand gekom,

7. en 'n klomp roekelose boewe het om hom saamgekoek. Hulle was te sterk vir Rehabeam seun van Salomo, want hy was nog jonk en sag en kon hom nie teen hulle handhaaf nie.

2 Kronieke 13