2 Konings 3:22-27 Afrikaans 1983 (AFR83)

22. Toe hulle vroeg die volgende môre opstaan, net toe die son opkom oor die water, sien die Moabiete die water oorkant hulle, rooi soos bloed.

23. “Dis bloed!” het hulle geskree. “Die konings het met mekaar begin veg en mekaar doodgemaak. Storm op die buit af, Moabiete!”

24. Toe hulle by die kamp van die Israeliete kom, het die Israeliete hulle aangeval en verslaan. Die Israeliete het die Moabiete voor hulle uit op die vlug gedryf, Moab binnegedring en dit verwoes.

25. Hulle het die stede in puin gelê en elke bewerkbare stuk grond met klippe besaai: elkeen het 'n klip gegooi om dit vol klippe te kry. Elke fontein het hulle toegestop en elke goeie boom afgekap. Uiteindelik het net Kir-Geres oorgebly. Die soldate met slingervelle het die stad omring en dit ingeneem.

26. Toe die koning van Moab sien dat hy die geveg gaan verloor, het hy sewe honderd man wat met swaarde bewapen was, gevat in 'n poging om by die koning van Edom deur te breek, maar hulle kon nie.

27. Toe vat die koning van Moab sy oudste seun wat in sy plek sou koning word en offer hom as brandoffer op die stadsmuur. Dit het die Israeliete so geskok dat hulle daarvandaan vertrek en na hulle land toe teruggegaan het.

2 Konings 3