19. Daar is niemand, groot of klein, seun of dogter, vermis nie, en ook niks van alles wat deur die Amalekiete gebuit is nie. Dawid het alles teruggebring.
20. Hy het ook al die skape en beeste teruggevat. Sy mense het die goed voor hom uitgedrywe en hulle het gesê: “Dis Dawid se buit.”
21. Toe Dawid aankom na die twee honderd man toe wat te moeg was om agter hom aan te gaan en wat hy by Besorspruit laat bly het, het hulle vir Dawid en sy manne tegemoet gegaan. Dawid het nader gekom na die manne toe en gevra hoe dit met hulle gaan.
22. Al die slegte en nikswerd manne uit die groep wat saam met Dawid gegaan het, het opgemerk: “Omdat hulle nie saam gegaan het nie, gee ons nie vir hulle van die buit wat deur ons gered is nie. Elkeen kan net sy vrou en kinders vat en loop.”