1 Kronieke 7:13-28 Afrikaans 1983 (AFR83)

13. Naftali se seuns was Jagseël, Guni, Jeser en Sillem. Hulle was nakomelinge van Bilha.

14. Nou volg die geslag van Manasse. Sy vrou het Asriël in die wêreld gebring. Sy Aramese byvrou was die moeder van Makir, vader van Gilead.

15. Makir het getrou met 'n vrou uit die Guppeërs en die Suppeërs, en sy suster se naam was Maäka. Die tweede seun se naam was Selofgad, maar hy het net dogters gehad.

16. Makir se vrou Maäka was die moeder van 'n seun met die naam Peres, en sy broer se naam was Seres, en sy seuns was Ulam en Rekem.

17. Die seun van Ulam was Bedan. Dit was dan die seuns van Gilead seun van Makir, seun van Manásse.

18. Gilead se suster Moleket was die moeder van Ishod, Abiëser en Magla.

19. Daar was ook seuns van Semida. Hulle was Agjan, Sekem, Likgi en Aniam.

20. Die seun van Efraim was Sutelag, dié se seun Bered, dié se seun Tagat, sý seun Elada, sý seun Tagat,

21. sý seun Sabad en sý seun Sutelag. Daar was ook nog Eser en Elad, maar hulle is deur die mense van Gat wat van geboorte af in die Efraimitiese gebied was, doodgemaak. Dit het gebeur toe hulle die mense van Gat se vee gaan steel het.

22. Eser en Elad se vader Efraim het lank oor hulle getreur, maar sy broers het hom kom troos.

23. Toe hy daarna met sy vrou gemeenskap gehad het, het sy swanger geword en 'n seun gekry. Hy het hom Beria genoem, omdat dit gebeur het toe daar 'n swaar tyd in sy huis was.

24. Sy dogter was Seëra. Sy het Bet-Goron-Onder en Bet-Goron-Bo gebou, en ook Ussen-Seëra.

25. Beria se seuns was Refag en Resef. Resef se seun was Telag, en sý seun Tagan.

26. Sý seun was Ladan, sý seun Ammihud, sý seun Elisama,

27. sý seun Nun en sý seun Josua.

28. Die gebied wat hulle besit en bewoon het, was Bet-El met die dorpies rondom hom, na die ooste toe Naära, na die weste toe Geser met die dorpies rondom hom, en verder Sigem met die dorpies rondom hom tot by Aja met sy dorpies.

1 Kronieke 7