1. Wat die kollekte vir die gelowiges in Jerusalem betref, moet julle ook maak soos ek dit in die gemeentes van Galasië gereël het.
2. Elke Sondag moet elkeen van julle na sy vermoë tuis iets opsy sit en dit opspaar, sodat die geldinsameling nie eers plaasvind as ek kom nie.
3. Wanneer ek dan gekom het, sal ek die manne wat julle daarvoor goedkeur, met briewe stuur om julle liefdegawe na Jerusalem toe weg te bring.
4. En as dit nodig is dat ek self ook gaan, kan hulle met my saamreis.
5. Ek sal na julle toe kom nadat ek deur Masedonië gereis het, want ek gaan deur Masedonië.
6. By julle sal ek moontlik oorbly of selfs die winter deurbring, dan kan julle my voorthelp op my verdere reis, waarheen dit ook al mag wees.
7. Ek wil julle nou nie net in die verbygaan besoek nie, maar ek hoop om 'n tydjie by julle deur te bring, as die Here dit toelaat.
8. Ek sal egter tot pinkster in Efese bly,
9. want hier staan 'n groot en belangrike deur vir my oop, maar hier is ook baie teenstanders.