1 Korintiërs 1:7-21 Afrikaans 1983 (AFR83)

7. dat dit julle nie aan 'n enkele genadegawe ontbreek nie. Julle bly ook vol verwagting uitsien na die verskyning van ons Here Jesus Christus.

8. Dit is Hy wat julle ook end-uit sal laat vas staan, sodat daar geen aanklag teen julle sal wees op die dag dat ons Here Jesus Christus kom nie.

9. God is getrou, Hy wat julle geroep het om verenig te lewe met sy Seun, Christus Jesus, ons Here.

10. Ek doen 'n beroep op julle almal, broers, in die Naam van ons Here Jesus Christus, om eensgesind te wees. Daar moet geen verdeeldheid onder julle wees nie. Julle moet een wees in dieselfde gesindheid en met dieselfde oortuiging.

11. Ek sê dit, my broers, omdat van Chloë se mense my vertel het dat daar onenigheid onder julle is.

12. Daarmee bedoel ek dat een sê: “Ek is vir Paulus;” een: “Ek is vir Apollos;” een: “Ek is vir Sefas;” en een: “Ek is vir Christus.”

13. Is Christus dan in stukke verdeel? Is Paulus miskien vir julle gekruisig, of is julle in die naam van Paulus gedoop?

14. Ek dank God dat ek niemand van julle gedoop het nie, behalwe Krispus en Gaius.

15. Niemand kan dus sê dat julle in my naam gedoop is nie.

16. Nee, ek het ook nog die huisgesin van Stefanas gedoop, maar verder weet ek nie of ek nog iemand gedoop het nie.

17. Christus het my immers nie gestuur om te doop nie, maar om die evangelie te verkondig, en dit nie met woorde van menslike wysheid nie, want dan sou die kruis van Christus sy krag verloor.

18. Die boodskap van die kruis van Christus is wel onsin vir dié wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God.

19. Daar staan tog geskrywe:“Die wysheid van die wyses sal Ek vernietig,en die geleerdheid van die geleerdes sal Ek tot niet maak.”

20. Waar is die wysgeer van hierdie wêreld nou? Waar die skrifgeleerde? Waar die slim woordvoerder? Het God nie die wysheid van die wêreld tot onsin gemaak nie?

21. Dit was die bedoeling van God in sy wysheid dat die wêreld nie deur geleerdheid tot kennis van God sou kom nie. Daarom het God in sy goedheid besluit om deur die prediking wat vir die wêreld onsin is, dié te red wat glo.

1 Korintiërs 1