1 Konings 8:6-21 Afrikaans 1983 (AFR83)

6. Toe het die priesters die verbondsark van die Here na sy plek toe gebring onder die vlerke van die gerubs in die binneste heiligdom van die tempel, dit is die Allerheiligste.

7. Die gerubs se vlerke was oopgesprei oor die staanplek van die ark. Hulle het die ark en sy draaghoute aan die bokant bedek.

8. Die draaghoute was so lank dat hulle punte gesien kon word van die voorkant van die binneste heiligdom af, maar hulle kon nie van buite af gesien word nie. Hulle is vandag nog daar.

9. Daar was niks in die ark nie behalwe die twee plat klippe wat Moses by Horeb daarin gesit het toe die Here by die uittog van die Israeliete uit Egipte met hulle 'n verbond gesluit het.

10. Toe die priesters uit die heiligdom kom, het 'n wolk die huis van die Here gevul.

11. Daarom kon die priesters nie vir diens aantree nie. Dit was die magtige teenwoordigheid van die Here wat die huis van die Here gevul het.

12. Toe het Salomo gesê:“Die Here het gesê Hy wil in duisternis woon.

13. Daarom, Here, het ek vir U 'n waardige huis gebou,'n verblyf waar U altyd kan woon.”

14. Daarna het die koning sy gesig na die hele gemeente van Israel toe gedraai en die hele gemeente van Israel geseën terwyl hulle daar staan.

15. Hy het gesê: “Geloof sy die Here die God van Israel wat aan my vader Dawid 'n belofte gedoen het en dit deur sy mag vervul het. Die woorde van die Here was:

16. ‘Van die dag af dat Ek my volk Israel uit Egipte gebring het, het Ek uit al die stamgebiede van Israel nie 'n stad gekies waar 'n tempel gebou kan word sodat my Naam daar kan wees nie, maar Ek het vir Dawid gekies sodat hy oor my volk Israel kon regeer.’

17. “My vader Dawid wou 'n tempel bou vir die Naam van die Here die God van Israel,

18. maar die Here het vir my vader Dawid gesê: ‘Dat dit jou voorneme is om 'n tempel vir my Naam te bou — dit is goed dat jy die voorneme het.

19. Maar nie jý sal die tempel bou nie; jou seun wat uit jou voortgekom het, hý sal die tempel vir my Naam bou.’

20. “Die Here het die belofte nagekom wat Hy gemaak het. Ek het my vader Dawid se plek geneem en op die troon van Israel gekom soos die Here beloof het. Die tempel vir die Naam van die Here die God van Israel het ek gebou

21. en die ark waarin die verbond van die Here is wat Hy met ons voorvaders gesluit het toe Hy hulle uit Egipte gebring het, het ek daar gesit.”

1 Konings 8