1 Konings 6:1-13 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. Vier honderd en tagtig jaar nadat die Israeliete uit Egipte getrek het, vier jaar nadat Salomo koning van Israel geword het, het hy begin bou aan die tempel van die Here. Dit was in die maand Sif, die tweede maand.

2. Die tempel wat koning Salomo vir die Here gebou het, was dertig meter lank, tien meter breed en vyftien meter hoog.

3. Die voorportaal aan die voorkant van die tempel was tien meter lank, net so lank as wat die tempel breed was. Die breedte daarvan was vyf meter.

4. Salomo het in die tempel vensters aangebring met kosyne en met traliewerk voor.

5. Rondom teen die muur van die tempel het hy 'n platform gebou. Dit het om die mure van die voorste en die binneste heiligdom gestrek, en daarop het hy verdiepings gebou.

6. Die onderste verdieping was twee en 'n half meter breed, die middelste drie meter en die derde drie en 'n half meter. Hy het die tempelmuur so gebou dat dit aan die buitekant regoor elke verdieping nouer was as regoor die vorige, sodat hy nie nodig sou hê om die verdiepings in die tempelmuur self vas te bou nie.

7. Vir die bou van die tempel is klaar gekapte klip uit die groewe gebruik. Daar was geen geraas van hamers, beitels of enige ander ystergereedskap by die tempel toe dit gebou is nie.

8. Die ingang na die middelste verdieping was aan die suidekant van die tempel. 'n Mens kon ook deur 'n luik opgaan na die middelste verdieping toe en daarvandaan na die derde toe.

9. Nadat Salomo die tempel klaar gebou het, het hy 'n dak van oorkruis gelegde sederbalke opgesit.

10. Die platform wat hy buite om die hele tempel gebou het, was twee en 'n half meter hoog, en hy het dit met sederbalke aan die tempelmuur vasgesit.

11. Die woord van die Here het tot Salomo gekom en gesê:

12. “Jy bou nou die tempel. As jy volgens my voorskrifte leef en my bepalings uitvoer en jou aan al my gebooie hou en volgens hulle leef, sal Ek my beloftes wat Ek aan jou vader Dawid gemaak het, nakom teenoor jou.

13. Ek sal tussen die Israeliete woon, Ek sal my volk Israel nie verlaat nie.”

1 Konings 6