23. tien vetgevoerde beeste, twintig veldbeeste en honderd stuks kleinvee, behalwe nog takbokke, gemsbokke, ribbokke en vetgemaakte pluimvee.
24. Salomo het geheers oor alles wes van die Eufraatrivier, van Tifsag af tot by Gasa, oor al die konings wes van die Eufraat. Na alle kante toe was daar vrede,
25. en solank Salomo geleef het, het die Judeërs en die Israeliete van Dan af tot by Berseba veilig gewoon, elkeen met sy eie wingerdstok en sy eie vyeboom om onder te sit.
26. Salomo het veertig duisend trekperde op stal gehad vir sy strydwaens en ook twaalf duisend ryperde.
27. Die streekbestuurders het elkeen een maand per jaar vir koning Salomo en almal wat van sy tafel af geëet het, van kos voorsien. Hulle het gesorg dat niks ontbreek nie.
28. Hulle het ook die gars en die hooi vir die ryperde en die trekperde gebring op die plekke wat met elkeen gereël was.
29. God het aan Salomo baie groot wysheid en verstand gegee en insig in soveel sake as wat daar sand aan die see is.
30. Salomo het meer wysheid gehad as al die ander mense, van die ooste af tot in Egipte.
31. Hy het meer wysheid gehad as enigiemand anders, meer as Etan die Esragiet, en meer as Heman, Kalkol en Darda, seuns van Magol. Sy naam het bekend geraak onder al die nasies in die omtrek.