21. Salomo het geheers oor al die koninkryke van die Eufraatrivier af tot by die gebied van die Filistyne, dit wil sê tot by die grens van Egipte. Hulle het belasting betaal en was onderhorig aan Salomo solank hy geleef het.
22. Salomo se daaglikse kosvoorrade was vyf ton fynmeel en tien ton broodmeel,
23. tien vetgevoerde beeste, twintig veldbeeste en honderd stuks kleinvee, behalwe nog takbokke, gemsbokke, ribbokke en vetgemaakte pluimvee.
24. Salomo het geheers oor alles wes van die Eufraatrivier, van Tifsag af tot by Gasa, oor al die konings wes van die Eufraat. Na alle kante toe was daar vrede,
25. en solank Salomo geleef het, het die Judeërs en die Israeliete van Dan af tot by Berseba veilig gewoon, elkeen met sy eie wingerdstok en sy eie vyeboom om onder te sit.