1 Konings 21:15-25 Afrikaans 1983 (AFR83)

15. Toe Isebel hoor Nabot is doodgegooi, sê sy vir Agab: “Gaan vat nou die wingerd van Nabot die Jisreëliet, wat hy nie aan jou wou verkoop nie. Nabot leef nie meer nie, hy is dood.”

16. Toe Agab hoor Nabot is dood, het hy klaargemaak om Nabot die Jisreëliet se wingerd vir hom te vat.

17. Die woord van die Here het toe tot Elia die Tisbiet gekom en vir hom gesê:

18. “Maak klaar en gaan ontmoet vir Agab wat in Samaria as koning oor Israel regeer. Hy is nou by die wingerd van Nabot, wat hy gaan vat het.

19. Jy moet vir Agab sê: ‘So sê die Here: Jy het gemoor en nou vat jy ook nog?’ Sê verder vir hom: So sê die Here: Op dieselfde plek waar die honde die bloed van Nabot opgelek het, sal hulle jou bloed ook oplek. Ja, joune!”

20. Toe Agab dit hoor, vra hy vir Elia: “Het jy my gekry, my vyand?”Elia het geantwoord: “Ek het jou gekry. Die Here sê vir jou: ‘Omdat jy jou daaraan oorgegee het om te doen wat verkeerd is in my oë,

21. gaan Ek 'n ramp oor jou bring en jou vernietig. Ek gaan al die manlikes in Agab se geslag sonder enige uitsondering uit Israel uitroei.

22. Omdat jy My uitgetart het en omdat jy Israel laat sondig het, sal Ek met jou huis maak soos met die huis van Jerobeam seun van Nebat en soos met die huis van Baesa seun van Agija.’

23. “En oor Isebel het die Here gesê: Die honde sal Isebel opvreet by die voorste muur van Jisreël.

24. Wie uit Agab se familie in die stad sterf, die honde sal hom opvreet, en wie in die oop veld sterf, die roofvoëls sal hom vreet.”

25. Daar was nooit iemand wat hom soos Agab daaraan oorgegee het om te doen wat verkeerd is in die oë van die Here nie. Sy vrou Isebel het hom daartoe aangehits.

1 Konings 21