17. Sy sê vir hom: “U Majesteit, u het mos tog voor die Here u God vir my met 'n eed beloof dat my seun Salomo na u koning sal word, en dat dit hy is wat op u troon sal sit.
18. Maar nou het Adonia koning geword sonder dat u iets daarvan weet.
19. Hy het 'n klomp beeste en kalwers en skape geslag en hy het al die prinse en die priester Abjatar en vir Joab, die hoof van die leër, daarheen genooi. Maar vir Salomo het hy nie genooi nie.
20. U Majesteit, die hele Israel kyk nou op na u om vir hulle aan te wys wie u troon ná u sal bestyg.
21. Moet ek en my seun Salomo dan, nadat u in u graf gelê is, as misdadigers behandel word?”
22. Terwyl sy nog met die koning praat, kom die profeet Natan daar aan.
23. Iemand sê toe vir die koning: “Hier is die profeet Natan.”Natan kom toe nader en buig diep voor die koning
24. en sê: “U Majesteit, het u ooit gesê Adonia moet ná u koning wees en dit is hy wat op u troon moet sit?
25. Hy het vandag gegaan en 'n klomp beeste en kalwers en skape geslag, en hy het al die prinse en die leërhoofde en die priester Abjatar genooi. Hulle eet en drink daar saam met hom en hulle roep: ‘Lank lewe koning Adonia!’