Spreuke 6:2-22 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

2. verstrik is in die woorde van jou mond, gevang is deur die woorde van jou mond,

3. doen dan dit, my seun, om jouself te red — want jy het in die hand van jou naaste geraak — gaan, werp jou neer en bestorm jou naaste,

4. gun jou oë geen slaap en jou ooglede geen sluimering nie;

5. red jou soos ’n gemsbok uit die hand, en soos ’n voël uit die hand van ’n voëlvanger.

6. Gaan na die mier, luiaard, kyk na sy weë en word wys!

7. Hy wat geen aanvoerder, opsigter of heerser het nie,

8. maak sy brood klaar in die somer, bêre sy voedsel weg in die oestyd.

9. Hoe lank, luiaard, sal jy bly lê, wanneer sal jy opstaan uit jou slaap?

10. Nog ’n bietjie slaap, nog ’n bietjie sluimer, nog ’n bietjie hande-vou om uit te rus!

11. So kom dan jou armoede soos ’n rondloper en jou gebrek soos ’n gewapende man.

12. ’n Deugniet, ’n kwaaddoener is hy wat met ’n valse mond rondloop,

13. wat met sy oë knip, met sy voete beduie, met sy vingers tekens gee;

14. in wie se hart valse streke is, wat altyd onheil bewerk en tweedrag saai.

15. Daarom sal sy ondergang skielik kom, onvoorsiens sal hy verbreek word sonder dat daar genesing voor is.

16. Hierdie ses dinge haat die Here, en sewe is vir sy siel ’n gruwel:

17. trotse oë, ’n leuenagtige tong en hande wat onskuldige bloed vergiet,

18. ’n hart wat onheilsplanne beraam, voete wat haastig na die kwaad toe loop,

19. een wat as valse getuie leuens uitstrooi en tussen broers tweedrag saai.

20. BEWAAR, my seun, die gebod van jou vader, en verwerp die onderwysing van jou moeder nie;

21. bind dit gedurigdeur op jou hart, hang dit om jou hals;

22. mag dit jou lei as jy wandel, oor jou wag hou as jy slaap en jou toespreek as jy wakker word.

Spreuke 6