Spreuke 30:4-15 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

4. Wie het na die hemel opgeklim en neergedaal? Wie het die wind in sy vuiste versamel? Wie het die waters in ’n kleed saamgebind? Wie het al die eindes van die aarde vasgestel? Hoe is sy Naam? En hoe is die Naam van sy Seun — as jy dit weet?

5. Elke woord van God is gelouter; Hy is ’n skild vir die wat by Hom skuil.

6. Voeg by sy woorde niks by nie, sodat Hy van jou nie rekenskap vorder en jy as ’n leuenaar openbaar word nie.

7. Twee dinge vra ek van U; onthou dit nie aan my voordat ek sterf nie:

8. Hou valsheid en leuentaal ver van my af; gee my nie armoede of rykdom nie, laat my geniet die brood wat vir my bestem is;

9. dat ek nie, as ek oorversadig geword het, U verloën nie, en sê: Wie is die Here? En dat ek nie, as ek arm geword het, steel en my aan die Naam van my God vergryp nie.

10. Belaster nie ’n slaaf by sy heer nie, sodat hy jou nie vloek en jy daarvoor moet boet nie.

11. Daar is ’n geslag wat sy vader vervloek en sy moeder nie seën nie,

12. ’n geslag wat rein is in sy eie oë en tog van sy vuiligheid nie gewas is nie,

13. ’n geslag — hoe trots is sy oë, en hoe hoog is sy ooglede opgetrek! —

14. ’n geslag waarvan die tande swaarde is, waarvan die gebit messe is, om die ellendiges uit die land te verteer en die behoeftiges onder die mensdom uit.

15. Die bloedsuier het twee dogters: Gee, gee! Drie is dit wat nie versadig word nie; vier sê nooit: Genoeg nie! —

Spreuke 30