Spreuke 30:10-27 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

10. Belaster nie ’n slaaf by sy heer nie, sodat hy jou nie vloek en jy daarvoor moet boet nie.

11. Daar is ’n geslag wat sy vader vervloek en sy moeder nie seën nie,

12. ’n geslag wat rein is in sy eie oë en tog van sy vuiligheid nie gewas is nie,

13. ’n geslag — hoe trots is sy oë, en hoe hoog is sy ooglede opgetrek! —

14. ’n geslag waarvan die tande swaarde is, waarvan die gebit messe is, om die ellendiges uit die land te verteer en die behoeftiges onder die mensdom uit.

15. Die bloedsuier het twee dogters: Gee, gee! Drie is dit wat nie versadig word nie; vier sê nooit: Genoeg nie! —

16. die doderyk en die toegesluite moederskoot, die aarde wat nie genoeg water kry en die vuur wat nooit sê: Genoeg nie!

17. ’n Oog wat met die vader spot en die gehoorsaamheid vir die moeder verag — die kraaie van die dal sal dit uitpik, en die kuikens van die arend sal dit opeet.

18. Drie is dit wat vir my te wonderbaar is, ja, vier wat ek nie begryp nie:

19. die weg van die arend in die lug, die weg van ’n slang oor ’n rots, die weg van ’n skip in die hart van die see, en die weg van ’n man by ’n maagd.

20. So is die weg van ’n vrou wat owerspel bedryf; sy eet en vee haar mond af en sê: Ek het geen sonde gedoen nie.

21. Onder drie bewe die aarde, en onder vier kan hy dit nie uithou nie:

22. onder ’n slaaf as hy koning word, en ’n dwaas as hy volop brood het;

23. onder ’n nie-geliefde as sy tog ’n man kry, en ’n slavin as sy haar meesteres uit die besitting verdrywe.

24. Vier is dit wat klein is op die aarde, maar hulle is uitermate wys:

25. die miere is nie ’n sterk volk nie, en tog berei hulle hul voedsel in die somer;

26. die klipdassies is nie ’n magtige volk nie, en tog maak hulle hul huis in die rots;

27. die sprinkane het geen koning nie, en tog trek die hele swerm in goeie orde uit;

Spreuke 30