1. MY seun, vergeet my onderwysing nie, en laat jou hart my gebooie bewaar;
2. want dit sal lengte van dae en jare van lewe en vrede vir jou vermeerder.
3. Laat liefde en trou jou nie verlaat nie; bind dit om jou hals, skryf dit op die tafel van jou hart,
4. dan sal jy genade vind en ’n goeie insig in die oë van God en die mense.
5. Vertrou op die Here met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie.
6. Ken Hom in al jou weë, dan sal Hý jou paaie gelykmaak.
7. Wees nie wys in jou eie oë nie; vrees die Here, en wyk af van die kwaad;
8. dit sal genesing wees vir jou liggaam en verkwikking vir jou gebeente.
9. Vereer die Here uit jou goed en uit die eerstelinge van al jou inkomste;
10. dan sal jou skure vol word van oorvloed en jou parskuipe oorloop van mos.
11. My seun, verag die tug van die Here nie, en laat sy kastyding nie jou weersin wek nie,
12. want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, ja, soos ’n vader die seun in wie hy behae het.
13. Gelukkig die mens wat wysheid gevind het, en die mens wat verstand verkry;
14. want die verkryging daarvan is beter as dié van silwer, en die verwerwing daarvan beter as van goud;
15. dit is kosteliker as korale, en al jou kleinode kan daar nie mee vergelyk word nie.
16. In sy regterhand is lengte van dae, in sy linkerhand rykdom en eer;
17. sy weë is lieflike weë, en al sy paaie is vrede.
18. Dit is ’n lewensboom vir die wat dit aangryp, en elkeen wat dit vashou, is gelukkig.