9. Verdedig jou saak teen jou naaste, maar openbaar ’n ander se geheim nie,
10. sodat een wat dit hoor, jou nie beskimp en jou slegte gerug nie ophou nie.
11. Goue appels op versierde silwerborde, so is ’n woord op sy tyd gespreek.
12. ’n Wyse bestraffer by ’n oor wat luister, is ’n goue ring en ’n goue sieraad.
13. Soos die verkoeling van sneeu op ’n oesdag, is ’n betroubare boodskapper vir sy senders; want hy verkwik die siel van sy heer.
14. ’n Man wat hom beroem op ’n geskenk wat hy tog nie gee nie, is soos dampe en wind waar geen reënbui by is nie.
15. Deur lankmoedigheid word ’n vors oorgehaal, en ’n sagte tong verbreek die gebeente.
16. Het jy heuning gevind, eet tot jy genoeg het, sodat jy daar nie sat van word en dit uitspuug nie.
17. Sit jou voet selde in jou naaste se huis, sodat hy nie van jou genoeg kry en jou haat nie.
18. ’n Knopkierie en ’n swaard en ’n skerp pyl, so is ’n man wat teen sy naaste as valse getuie optree.
19. ’n Slegte tand en ’n voet wat swik, so is die vertroue op ’n ontroue in die dag van benoudheid.