Spreuke 22:11-23 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

11. Hy wat reinheid van hart liefhet, wie se lippe aangenaam is — die koning is sy vriend.

12. Die oë van die Here bewaar kennis; daarom verydel Hy die woorde van die ontroue.

13. Die luiaard sê: Daar is ’n leeu buitekant; ek kan in die middel van die strate gedood word!

14. Die mond van die vreemde vroue is ’n diep kuil; hy op wie die Here vertoornd is, sal daarin val.

15. As die sotheid vassit in die hart van die seun, die tugroede sal dit daaruit verwyder.

16. Wie die arme verdruk, bevoordeel hom; hy wat aan die ryke gee, verarm hom net.

17. GEE gehoor en luister na die woorde van die wyse manne, en let op my kennis.

18. Want dit is lieflik as jy dit in jou binneste bewaar; mag hulle tesame gereed lê op jou lippe.

19. Dat jou vertroue op die Here mag wees, daarom onderwys ek jou vandag, ja, vir jou.

20. Het ek jou nie kernagtige spreuke voorgeskrywe met raadgewinge en kennis,

21. om jou bekend te maak waarheid, betroubare woorde, sodat jy woorde van waarheid kan antwoord aan die wat jou stuur nie?

22. Beroof die arme nie, omdat hy arm is, en verbrysel die ellendige nie in die poort nie.

23. Want die Here sal hulle saak verdedig en hulle berowers van die lewe berowe.

Spreuke 22