Spreuke 21:15-29 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

15. Vreugde is dit vir die regverdige om reg te doen, maar ’n verskrikking vir die werkers van ongeregtigheid.

16. ’n Mens wat afdwaal van die pad van verstand, sal in die vergadering van die skimme rus.

17. Wie van vrolikheid hou, is ’n man van gebrek; hy wat van wyn en olie hou, sal nie ryk word nie.

18. Die goddelose is ’n losprys vir die regverdige, en in die plek van die opregtes kom die ontroue.

19. Dit is beter om in ’n woeste land te woon as by ’n twisgierige vrou en ergernis.

20. ’n Kosbare skat en olie is in die woning van die regverdige, maar ’n dwase mens bring dit deur.

21. Wie geregtigheid en weldadigheid najaag, sal die lewe, geregtigheid en eer vind.

22. Die wyse beklim die stad van die helde en gooi die vesting neer waar dit op vertrou.

23. Hy wat sy mond en sy tong bewaar, bewaar sy siel van benoudhede.

24. ’n Vermetele, ’n trotsaard word ’n spotter genoem, een wat in oormaat van vermetelheid handel.

25. Die begeerte van die luiaard sal hom doodmaak, want sy hande weier om te werk;

26. die hele dag deur word daar dringend begeer, maar die regverdige gee en hou nie terug nie.

27. Die offer van die goddelose is ’n gruwel; hoeveel te meer as hulle dit met skandelike bedoeling bring.

28. ’n Leuenagtige getuie kom om; maar ’n man wat goed toeluister, spreek vir altyd.

29. Die goddelose trek ’n onbeskaamde gesig, maar die opregte gee aan sy weë die regte rigting.

Spreuke 21