Spreuke 18:13-24 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

13. Hy wat antwoord gee voordat hy gehoor het, vir hom sal dit ’n sotheid en ’n skande wees.

14. Die gees van ’n man ondersteun hom in sy krankheid; maar ’n verslae gees — wie kan dit opbeur?

15. Die hart van die verstandige verwerf kennis, en die oor van wyse soek na kennis.

16. Die geskenk van iemand maak vir hom ruimte en bring hom in die teenwoordigheid van die aansienlikes.

17. Hy wat die eerste in sy regsaak is, het reg; maar sy naaste kom en ondersoek hom terdeë.

18. Die lot laat die geskille ophou en maak sterkes uitmekaar.

19. ’n Broer teen wie oortree is, is erger as ’n sterk stad; en geskille is soos die grendel van ’n paleis.

20. Van die vrug van iemand se mond word sy maag versadig; hy word versadig van die opbrings van sy lippe.

21. Dood en lewe is in die mag van die tong; en elkeen wat dit graag gebruik, sal die vrug daarvan eet.

22. Wie ’n vrou gevind het, het iets goeds gevind en ’n welgevalle van die Here verkry.

23. Die arme spreek smekinge, maar die ryke antwoord harde dinge.

24. ’n Man met baie vriende word geruïneer, maar daar is ’n vriend wat sterker aanhang as ’n broer.

Spreuke 18